Elke reeks bevat veertien kort raaiseltjies. Hulle word
aan die jong leser gestel deur ses soogdiersoorte, vyf voëlsoorte, twee ordes
insekte en een groep ‘reptiele’. Elke raaisel is geïllustreer met uitstekende
fotos. Kom meer te wete oor elke spesie of groep se kenmerkende persoonlikheid,
eienskappe en eienaardighede deur te probeer om die vrae te beantwoord “Wie
is Ek?” en “Wie
is Ons?”.
Om hierdie boekies by jou gunsteling eBoek verskaffer te
kan vind, volg die skakel
https://books2read.com/ap/8NkvaJ/Tnreb-Rekabnessiev
My
Naam is Xerus inauris – Wie is Ek?
Ek is 'n knaagdier;
dit beteken dat my voorste tande, my knaagtande, baie langer is as jou voorste
tandjies. Myne is ook vlymskerp. Hulle werk soos beitels as ek 'n harde peul of
die dop van 'n neut moet oopkou. Ek hou van sade, peule, knolle en van sommige
sappige blare. Soms eet ek blomme en vrugte as ek hulle kan vind. My pote
eindig in kort skerp kloue – ek kan daarmee peule of vrugte vashou terwyl ek
aan hulle knaag.
My
Naam is Bucorvus leadbeateri – Wie is
Ek?
Omdat ek nie hande
het nie gooi ek met 'n ruk van my snawel my kos op in die lug – dan vang ek dit
in my mond sodat ek my kos in een stuk kan afsluk. Anders as jy kou ek nooit my
kos nie. Jy sal vir my lag as ek bely dat ek soms 'n paar keer moet probeer om
'n kriewelende sprinkaan of klein paddatjie gesluk te kry.
Weens my pa se diep
stem het ek die naam bromvoël gekry. Ek weet dat jy dit só uitgewerk het. Maar
het jy ook geweet dat my wetenskaplike naam Bucorvus
leadbeateri is?
Ons
is die Skarrelende Vliesvlerkige Insekte van die Orde Hymenoptera – Wie is Ons?
Een van die
interessante feite oor ons wat jy miskien al van weet is dat ons almal
vroutjies is wat saam in 'n nes bly. Meer as dit, ons is ook almal susters wat
saam met ons ma, die koningin, bly. Ons ma lê al die eiers waaruit ons nuwe
sustertjies sal broei. Soms lê ons ma ook eiertjies waaruit ons boeties sal
broei, maar ons boeties mag nie lank saam met ons woon nie. Sodra hulle groot
genoeg en gereed is, smyt ons hulle uit die nes uit. Hulle moet dan ver vlieg
om vir hulleself 'n skuiling en kos te vind, en natuurlik ook 'n prinsessie wat
dan haar eie nes en familie alleen sal begin.
My
Naam is Ceratotherium simum – Wie is
Ek?
Op my gesig dra ek
twee enkel ‘horings’ wat van gekompakteerde hare gemaak is. Hulle is eintlik
nes jou vingernaels en nie rêrig horings nie. My ‘horinkies’ is nog kort maar
my ma s’n is baie groot. By haar is die voorste een langer en effens meer na bo
gebuig; die een daaragter is korter en meer driehoekig van vorm. Ons gebruik
ons horings meestal om onsself teen vyande te beskerm; dan baklei ons soos
musketiers van oud met hulle swaarde.
My Naam is Terpsiphone viridis – Wie
is Ek?
My pa het die langste
oranje stertvere gehad wat ek nog gesien het. Hulle was meer as twee keer
langer as sy hele lyf. As hy deur die lug gesweef het, het hierdie pragtige
vere agter hom gewapper soos baie lang vaandels wat in 'n sterk wind flapper.
Ek is nog 'n bietjie jonk – my stertvere is nog nie heeltemal so lank soos my
pa s’n was nie.
My
Naam is Aepyceros melampus – Wie is
Ek?
Die speletjie waarvan
ek die meeste hou het nie 'n naam nie, maar jy kan hom seker ‘gedêng-gedêng’ noem. Ons staan rustig
saam met ons maats in 'n groot groep sodat ons ma’s dink ons is soet. Skielik
hardloop ons almal in wye kringe deur die bos; ons volg mekaar en probeer die
eerste wees deurdat ons kortpaaie tussen bossies vat of met lang spronge dit
oor 'n hindernis waag. As ons ma’s kwaai raak, staan ons weer stil ... tot die
volgende keer.
Ons
is die Vierpotige Diere Met 'n Skubbige Vel wat Water-lewende Jagters is – Wie
is Ons?
Ons is
nader familie van voëls as wat ons familie van die ‘reptiele’ is. Ons behoort
aan 'n baie ou geslag van diersoorte wat die voëltjies insluit. Ons is dus glad
nie ‘reptiele’ nie, soos julle mense voortgaan om ons te noem.
Daar is
baie min soorte van ons wat jy in Afrika sal kan teëkom. Ons almal leef en maak
jag op ons prooi in water. Voordat mense op ons jag gemaak het vir ons velle
was ons meer volop. Die grootste van ons soort kom nog redelik wydverspreid in
Afrika voor. Jy sal ons tog nog maklik in die groter riviere, moerasse, mere en
damme, en selfs in strandmere en riviermondings, van suider en oostelike Afrika
kan vind. Ons leef net nie in die hoë gebergtes en die woestynareas nie. Nog 'n
reuse soort sal jy net in die Nyl van Noord-Afrika kan teëkom. Daar is ook twee
baie kleiner soorte wat in die riviere in die oerwoude van noordwestelike
Afrika leef.
My
Naam is Sagittarius serpentarius – Wie
is Ek?
Ek het my gewone naam
óf van die Franse óf van die Arabiere gekry. Jy sal aan die einde van hierdie
kort raaisel weet hoekom dit só is. Jy sal ook weet hoekom ek een van die
keuses bo die ander een verkies. Jy sal ook uitvind dat die wetenskaplikes van
ouds 'n groot fout gemaak het toe hulle op my wetenskaplike naam besluit het.
My
Naam is Helogale parvula – Wie is Ek?
Ek eet meestal klein
insekte soos kewers. Ek eet ook erdwurms as ek hulle met my skerp naeltjies aan
my pote uit die los grond kan uitgrawe. Ek hou ook daarvan om skerpioene te eet
wat ek onder boomtakke of klippe in die veld vind. Soms kry ek dit ook reg om
'n akkedissie te vang. Ek hou glad nie van miere nie omdat hulle baie suur
proe. Ek is seker dat jy ook voorkeurkos het wat jy eerder as enige ander
kossoort sal eet.
Weet jy wie ek is? Jy
is reg, ek is 'n dwergmuishondjie. Die slim wetenskaplikes het vir my die naam Helogale parvula gegee.
My Naam is Ploceus velatus – Wie
is Ek?
Ek moet nog baie
leer. Watter blare is goed om mee te vleg? Watter soort knoop moet ek waar
insit dat die nes wat ek bou sterk word? Ek besef ook dat ek 'n hele aantal
neste sal moet bou en herbou voordat ek 'n pragtige vroutjie of twee sal kan
tevrede stel.
As ek eers 'n nes
gebou het, sal ek hom moet adverteer. Ek sal op 'n takkie naby my voltooide nes
moet sit en luidkeels sing terwyl ek my vlerke fladder. Ek sal ook onder aan
die nes moet hang terwyl ek sing en vlerke swaai. Dan is daar ook die gevaar
dat 'n indringer my van my eie nes sal kan wegjaag. Omdat ons meestal in 'n
groot bondel saam nes maak is daar altyd die gevaar dat 'n ander mannetjie jou
nes en een van jou vroutjies sal steel. Dit sal baie van my vat om my eerste
familie te kan groot maak.
Ons
is die Tweevlerkige Insekte van die Orde Diptera – Wie is Ons?
Wat is die
belangrikste leidraad oor wié ons is? Ons het net een paar vlerke! As jy ooit
nie seker is watter inseksoort jy besig is om te aanskou nie, tel net die
vlerke. Ons vlerke is membraanagtig en vir vlieg aangepas. Hulle is redelik
groot en het meestal 'n ovaal vorm. Omdat hierdie vlerke deurskynend is, breek
hulle sonlig in sy verskillende kleure op. Jy kan dus al die kleure van 'n
reënboog op ons vlerke sien dans. In sommige soorte word hierdie kleurvolle
skouspel as seine gebruik om 'n maat mee aan te lok.
My
Naam is Syncerus caffer – Wie is Ek?
Ons leef in groot
troppe saam om ons teen ons grootste vyande, die leeus, te beskerm. As hulle
probeer om ons te jag hardloop ons in 'n bondel weg. As hulle egter een van ons
bedreig, draai ons om – dan is die lawwe leeus sommer in die moeilikheid want
ons kan hulle baie seermaak deur hulle met ons horings te gaffel.
Mense sê dat ons nors is. Ek dink dit is 'n fout – ons is
vriendelik solank jy ons nie kwaad wil aandoen nie. As jy moeilikheid by ons
soek sal jy dit kry net omdat ons mekaar sal verdedig. Ek dink jou familie tree
ook só op as daar gevaar dreig.
My Naam is Bubulcus ibis – Wie is
Ek?
Ek het 'n korterige,
reguit nek wat nooit 'n kink in het nie, anders as die meeste voëlsoorte wat na
aan my verwant is. My kop is rond maar ek het 'n sterk, reguit, swart snawel
wat na 'n skerp punt toe loop – dit laat my kop 'n bietjie driehoekig lyk. Met
my snawel kan ek maklik my prooi tussen grasse of blare oppik en vas hou. Al is
my geel oë klein, is hulle baie skerp en ek sal die kleinste beweging raaksien.
My
Naam is Lycaon pictus – Wie is Ek?
My pels is van digte,
sagte lang hare gemaak. My hele lyf is versier met blertse en blokkies van wit,
goudgeel, rooi-bruin en swart patrone. Almal van ons het 'n unieke skakering –
jy sal nooit twee van ons vind wat eenders lyk nie, al soek jy vir jare aaneen.
Ek kan dus almal in my groot familie uitmekaar ken; soms is dit natuurlik nie
'n goeie ding nie – as ek stouterig is weet almal onmiddellik dat ek die
skuldige is.
https://books2read.com/ap/8NkvaJ/Tnreb-Rekabnessiev