Sunday, 4 October 2020

UITTREKSELS UIT: “Wie is Ek?” “Wie is Ons?” – Diere van Afrika Stel vir Jou Raaiseltjies – Reeks 1


Elke reeks bevat veertien kort raaiseltjies. Hulle word aan die jong leser gestel deur ses soogdiersoorte, vyf voëlsoorte, twee ordes insekte en een groep ‘reptiele’. Elke raaisel is geïllustreer met uitstekende fotos. Kom meer te wete oor elke spesie of groep se kenmerkende persoonlikheid, eienskappe en eienaardighede deur te probeer om die vrae te beantwoord “Wie is Ek?” en “Wie is Ons?”.

Om hierdie boekies by jou gunsteling eBoek verskaffer te kan vind, volg die skakel



My Naam is Galago moholi – Wie is Ek?

This image is Copyrighted © Berndt Weissenbacher/BeKaHaWe. If you like it, you may share this image as presented here under a Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 3.0 License (CC BY-NC-ND 3.0). NO OTHER USE OF THIS IMAGE is permitted without the express consent of the photographer.

Ek is veral beroemd vir my springvermoë – ek klouter nie in bome rond nie, ek wip en spring van tak tot tak, van boom tot boom. Dis hoekom ek 'n lang stert het - my stert help my om my balans te hou. My stert help my ook om koers te hou terwyl ek gedurende 'n lang sprong deur die lug seil. As ek op die grond moet beweeg, omdat die bome te ver van mekaar af staan spring ek ook op my agterbeentjies in lang, hoë boë – jy sal my nooit sien hardloop nie.



My Naam is Struthio camelus – Wie is Ek?

This image is Copyrighted © Berndt Weissenbacher/BeKaHaWe. If you like it, you may share this image as presented here under a Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 3.0 License (CC BY-NC-ND 3.0). NO OTHER USE OF THIS IMAGE is permitted without the express consent of the photographer.

My ma en pa is die grootste voëls op die hele aardbol. Omdat hulle so groot is kan hulle ongelukkig nie vlieg nie. My ma se vere is van 'n vaalbruin kleur. Net die vere op haar maag en sye is vaalwit. My ma lyk eintlike altyd stowwerig. My pa spog met swart vere op sy rug en vlerke – sy vere op sy maag en sye is spierwit. My pa hou daarvan om sy vlerke wyd te sprei en dan te wikkel; só spog hy met sy veredrag.

Soos jy weet vertel mense graag stories oor die diereryk. Een van dié stories is dat ek sukkel om 'n besluit te neem en dat ek liewers my kop in die sand sal steek as om 'n probleem op te los. Ek kan vir jou nou sê dat ek dit nooit doen nie. Hoekom sou dit in elk geval só wees? Ek is mos baie slim en rats.



Ons is die Dag-aktiewe Skubvlerkige Insekte van die Orde Lepidoptera - Wie is Ons?

This image is Copyrighted © Berndt Weissenbacher/BeKaHaWe. If you like it, you may share this image as presented here under a Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 3.0 License (CC BY-NC-ND 3.0). NO OTHER USE OF THIS IMAGE is permitted without the express consent of the photographer.

As ons besig is om op 'n blom rond te klouter terwyl ons nektar soek, word ons lywe oortrek met die stuifmeel van blomme. So is ons verantwoordelik vir die bestuiwing en voortplanting van baie plantsoorte. Die blomme self kan nie voortbestaan as ons nie hulle nektar sou drink nie. Dit is hoe ons nog altyd met blomme saamgewerk het – hulle gee vir ons nektar en ons karwei hulle stuifmeel na 'n ander blom toe aan, maar altyd net van een spesifieke blomsoort na dieselfde blomsoort.



My Naam is Equus burchelli – Wie is Ek?

This image is Copyrighted © Berndt Weissenbacher/BeKaHaWe. If you like it, you may share this image as presented here under a Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 3.0 License (CC BY-NC-ND 3.0). NO OTHER USE OF THIS IMAGE is permitted without the express consent of the photographer.

My lyf is nou nog met langer hare oortrek sodat ek nog 'n bietjie wollerig lyk. As ek ouer word sal my hare kort wees. My lyf is gestreep in wit en swart lyne. As jy mooi oplet sal jy sien dat daar ook dun ligbruin lyne tussen die wit en swart strepe loop. Van my kop af oor my nek tot by my skouers dra ek 'n maan van lang, swart hare wat altyd kiertsregop staan.

Ek het ook 'n lang stert wat met lang, swart hare versier is. Ek gebruik my stert voortdurend om stekende vlieë van my lyf af weg te hou. Mense het altyd geglo dat my strepe vir my 'n soort kamoeflering in die bos is – maar my strepe verwar eintlik die vlieë wat my bloed wil suig sodat ek minder deur dié bloedsuiers gepla word as ander wilde diersoorte.



My Naam is Merops bullockoides – Wie is Ek?

This image is Copyrighted © Berndt Weissenbacher/BeKaHaWe. If you like it, you may share this image as presented here under a Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 3.0 License (CC BY-NC-ND 3.0). NO OTHER USE OF THIS IMAGE is permitted without the express consent of the photographer.

Noudat ek al baie gesels het, sal jy ook seker wil weet hoe ek lyk en wié ek is. Ek sal eers my ouers beskryf omdat hulle kleurvoller as ek is; jy onthou dat ek nog nie volwasse is nie. Vir voëls is my ouers van middelmatige grote – hulle lywe is redelik lank en slank. Die vere op 'n volwassene se rug en vlerke is 'n mooi, donkergroen kleur. Die vere aan die stert se onderkant is 'n donker blou. Die vere op die bors asook die nekvere en vere op die kop se kruin is van 'n ligte oranjebruin kleur.



My Naam is Phacochoerus aethiopicus – Wie is Ek?

This image is Copyrighted © Berndt Weissenbacher/BeKaHaWe. If you like it, you may share this image as presented here under a Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 3.0 License (CC BY-NC-ND 3.0). NO OTHER USE OF THIS IMAGE is permitted without the express consent of the photographer.

My stert is lank, dun en kaal, behalwe vir 'n kwas kort hare aan sy punt. My stert word kierts-regop gehou wanneer ek draf; so kan my familie sien waar ek hardloop tussen die lang grasse en struike deur. Só sal my ma haar kinders nie maklik in die bos verloor nie. Dis nou 'n puik sisteem om mekaar te laat weet waarheen jy verdwyn het. Ek is verbaas dat nie meer diersoorte aan hierdie plan gedink het nie.



Ons is die Nie-giftige, Vierpotige Diere Met 'n Skubbige Vel van die Orde Squamata – Wie is Ons?

This image is Copyrighted © Berndt Weissenbacher/BeKaHaWe. If you like it, you may share this image as presented here under a Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 3.0 License (CC BY-NC-ND 3.0). NO OTHER USE OF THIS IMAGE is permitted without the express consent of the photographer.

Voordat ons met ons raaisel kan begin, moet ons net eers 'n probleem uit die weg ruim. Julle mense het ons nog altyd ‘reptiele’ genoem, maar ons was nog nooit net een natuurlike versameling van diertjies gewees nie. Sommige ‘reptiele’, soos julle aanhou om ons te noem, is nader familie van voëls as wat hulle familie van die ander ‘reptiele’ is.

Dit is eers nóú dat die wetenskaplikes agterkom dat hulle 'n fout gemaak het om ons almal saam in een groot groep te plaas. Ons het glad geen probleem om die voëls saam in ons groep te verwelkom nie – 'n puik en ook wetenskaplik aanvaarbare oplossing! Die voëlkykers sal egter die stuipe kry as hulle agterkom dat hulle nog altyd net ‘reptielkykers’ was. Wié is ons nou eintlik?



My Naam is Haliaeetus vocifer – Wie is Ek?

This image is Copyrighted © Berndt Weissenbacher/BeKaHaWe. If you like it, you may share this image as presented here under a Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 3.0 License (CC BY-NC-ND 3.0). NO OTHER USE OF THIS IMAGE is permitted without the express consent of the photographer.

Ek het ook aan die begin van hierdie raaisel gesê dat ek wêreldwyd beroemd is. Dis nou nie eintlik ék nie maar wel my ouers. Elke dag patrolleer my pa 'n lang gebied net langs ons rivier om seker te maak dat geen ander voël ons visse daar sal kom vang nie. Jy sal my pa en my ma maklik sien terwyl hulle vir ure op bome sit om ons gebied vir indringers dop te hou. My pa sweef ook gereeld in wye kringe oor sy gebied, of hy vlieg net bo die boomkrone op die rivier se wal rivier-op en rivier-af.



My Naam is Canis mesomelas – Wie is Ek?

This image is Copyrighted © Berndt Weissenbacher/BeKaHaWe. If you like it, you may share this image as presented here under a Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 3.0 License (CC BY-NC-ND 3.0). NO OTHER USE OF THIS IMAGE is permitted without the express consent of the photographer.

Ek is seker dat jy al 'n storie of wat oor ons gehoor het. Die mense sê aanmekaar dat ons baie slim is, maar dat ons ook slu en agterbaks is. Ek hou glad nie van dié stories nie. Ons is wel slim en boonop is ons baie rats. Ek dink dat daar 'n paar mense is wat dié stories versprei omdat hulle nie so slim en vinnig soos ons is nie.



My Naam is Streptopelia capicola – Wie is Ek?

This image is Copyrighted © Berndt Weissenbacher/BeKaHaWe. If you like it, you may share this image as presented here under a Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 3.0 License (CC BY-NC-ND 3.0). NO OTHER USE OF THIS IMAGE is permitted without the express consent of the photographer.

Dit is nou al 'n week gelede dat my sussie en ek leer vlieg het. Ek moet bely dat ek nog nie heeltemal die vliegkuns perfek geleer het nie, maar ek kan darem al in goeie, stil weer redelik goed en vinnig vlieg. Ons kinders volg nog heeltyd ons ouers as hulle kos soek – hulle deel ook nog baie van hulle kos met ons. Daar is nog baie om te leer; hoe om in die veld veilig te wees en watter kossoorte waar te vind is. Ek is opgewonde (maar ook 'n bietjie bang) dat ek oor 'n week of so my eie gang sal moet gaan – anders as by jou mag ek nie meer as drie weke by my ouers bly en van hulle afhanklik wees nie.



Ons is die Vinnigvlieënde Jagtende Insekte van die Orde Odonata - Wie is Ons?

This image is Copyrighted © Berndt Weissenbacher/BeKaHaWe. If you like it, you may share this image as presented here under a Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 3.0 License (CC BY-NC-ND 3.0). NO OTHER USE OF THIS IMAGE is permitted without the express consent of the photographer.

Om die klein prooi wat ons op jag maak te kan raaksien, en om nie in iets vas te vlieg nie, het ons reuse, saamgestelde oë. Dit beteken dat elke oog baie lense het en nie net een soos dit by jou oë die geval is nie. Daarom sien ons enige beweging in die veld om ons maklik raak. Ons oë is só groot dat hulle amper die hele oppervlakte van ons koppe beslaan. Daarenteen het ons nie 'n gooie reuksin nie; ons antennatjies, of te wel voelhorinkies, is maar baie kort. Ons kan ook ons koppe draai omdat hulle deur 'n baie kort nek aan ons borsstukke vasgemaak is. Weereens kan ons die hele wêreld om ons maklik fyn dophou.

Ons is die vinnig vlieënde vername jagters van die waterkante. Om ons te sien moet jy skerp oë hê en jy moet fyn oplet. As jy weer 'n keer by 'n waterbron soos 'n rivier of dam 'n bietjie tyd kan vertoef, kyk uit vir 'n kleurvolle flits wat deur die lug snel. Dít sal een van ons wees!



My Naam is Tragelaphus strepsiceros – Wie is Ek?

This image is Copyrighted © Berndt Weissenbacher/BeKaHaWe. If you like it, you may share this image as presented here under a Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 3.0 License (CC BY-NC-ND 3.0). NO OTHER USE OF THIS IMAGE is permitted without the express consent of the photographer.

Op my klein koppie spog ek al met twee kort horinkies. My ma lag altyd; sy sê dis nog nie horings nie, dis nou net kort spykertjies. Ek dink sy is 'n bietjie jaloers want sy het nooit horings gehad nie. My pa en ooms spog met die mooiste, lang, gekrulde horings. Hulle lyk soos spirale, 'n bietjie soos die kurktrekker wat jou pa gebruik om 'n wynbottel mee oop te maak. Eendag sal ek ook met 'n paar horings kan spog omdat ek 'n mannetjie is.



My Naam is Alopochen aegyptiaca – Wie is Ek?

This image is Copyrighted © Berndt Weissenbacher/BeKaHaWe. If you like it, you may share this image as presented here under a Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 3.0 License (CC BY-NC-ND 3.0). NO OTHER USE OF THIS IMAGE is permitted without the express consent of the photographer.

Byna onmiddellik nadat ek en my klein sussies en boeties uit ons eiertjies gebars het, het my ma ons geroep om saam met haar dam toe te stap. Jy sou verbaas gewees het om te sien dat ek só gou kon stap en selfs kon swem – al was dit net dat ek op die water gedobber het en my pootjies gewikkel het om vorentoe te beweeg. My ma en pa het ons veilig gehou – ons het net in 'n klein vlak poeletjie gebly en ons mag nooit ver van die oewer beweeg nie sodat krokodille ons nie kon gaps nie.



My Naam is Panthera pardus – Wie is Ek?

This image is Copyrighted © Berndt Weissenbacher/BeKaHaWe. If you like it, you may share this image as presented here under a Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 3.0 License (CC BY-NC-ND 3.0). NO OTHER USE OF THIS IMAGE is permitted without the express consent of the photographer.

As jy in die nag slaap is ek wakker en op jag in die pikdonker. Terwyl jy in die skool sit om meer te leer, lê ek lekker in 'n sonkolletjie en rus. As die dag warm raak hou ek daarvan om op 'n breë tak van 'n groot boom te lê en slaap. Jy sal miskien my stert sien afhang – die res van my lyf sal sommer tussen die sonkolle en skaduwees wat op die blare val wegraak.

No comments:

Post a Comment